Geveerde vriende mis, vergiftig supermark

Die voedselprodukte van ‘n supermark hier is ‘n groot gevaar vir veral die inwoners van die lokasie buite die dorp, weens voëls wat die winkel teister.
Voëls wat daagliks in die Shoprite-tak hier rondvlieg, vreet van die vleisprodukte asook die groente- en vrugteprodukte in die winkel. By tye is die voëls selfs opgemerk dat hulle gate in die plastiekbedekte vleispakkies pik om die kos te vreet.

Die voëls sukkel oënskynlik om die winkel te ontsnap en bemis dan die hele perseel sover hul vlieg.
Dit veroorsaak ‘n groot gesondheidsgevaar vir mense wat besmette kos inneem. In arm gebiede waar inwoners swakker immuunstelsels het of HIV positief is, kan besmette kos selfs tot die dood lei, volgens ‘n voedselkenner.

Die winkel is naby die lokasie gelee.

(meer…)

Add comment Augustus 29, 2008

Die storie van die Nama-stap, die put en die wondergat (deel 2)

Navorser Alexa Kirsten vertel verder van haar ondervinding in die Namakwaland met die Nama-mense langs die Oranjerivier…

Behalwe vir tannie Grietjie, was daar natuurlik baie ander interessante ‘karakters’ wat ek sover op dié navorsingstoer ontmoet het. En elkeen het moeite gedoen om ons in hul gemeenskap ‘in te lyf’ en te laat tuis voel. Ons het egte toeriste-behandeling ontvang en het dít ons darem belangrik laat voel… Ons het nie net wonderlike mense ontmoet nie, maar dié mense het ons weer interessante plekke en ‘verskynsels’ gewys.

(meer…)

2 comments Julie 10, 2008

Township-vrou deur twee verkrag

‘n Vrou van die Joza township buite Grahamstad is Saterdagoggend omstreeks 1:30 deur twee mans aangerand en verkrag. Die vrou, 48, het nog geslaap toe die twee mans, wie se identiteit nie bekend is nie, by haar huis in uitbreiding 8 ingebreek het.

Ná beide van die aanvallers haar verkrag het, het hulle haar met ‘n ornament aangerand, volgens ‘n polisieverklaring wat gister uitgereik is. Die vrou is in die Settlers Hospitaal op die dorp opgeneem waar sy 50 steke, hoofsaaklik vir beserings aan die gesig en bolyf, ontvang het. Die aanvallers het met ‘n selfoon en ‘n bedrag geld gevlug. Enige persoon met inligting word versoek om inspekteur Ronel Botha by 079 497 1489 te skakel.

Add comment Julie 10, 2008

“Tannie Grietjie het my bekoor” – navorser

Alexa Kirsten, dialeknavorser van die taalatlasprojek, het tydens haar besoek aan die Noord-Kaap die voorreg gehad om Grietjie Adams te ondervra.  Sy gee haar indrukke…

Op my laaste navorsingstoer het ek die voorreg gehad om vir Tannie Grietjie van Garies – já dis reg, die einste en enigste Grietjie – te ontmoet.  Vir dié van julle wat nog nooit van haar gehoor het nie, waar was julle die afgelope dekade?

Sy was omtrent ‘n gunsteling in die media met haar rympies en liedjies en passie vir die Afrikaanse taal. Sy het ook al menige ATKV-pryse ingepalm vir haar besonderse talent. Tannie Grietjie het my omtrent vermaak met haar skril sangstemmetjie en het uit volle bors “Mooie meisie met die ronde lyfie” gesing.  En haar danspassies is uit die boonste rakke! Met haar kort ou lyfie swaai en draai sy en stamp haar piepklein voetjies dat Garies se stof so staan!

Sy is ook baie lief vir drukkies uitdeel en is ‘n gelowige ou tannie wat nie skroom om vir jongmense (insluitend myself natuurlik) oor die sondes van die vlees te preek nie. Ek was skoon rooi van skaamte dat dié ou tannie sulke ‘ernstige’ onderwerpe sonder blik of bloos kan aanspreek! Sjoe! Sy kan vir enige hoërskool Biologie-onderwyser ‘n ding of twee vertel!

Sy was definitief een van my gunsteling mense wat ek sover op my navorsingstoere ontmoet het. Indien jy weer in Garies se area is, maak asseblief ‘n draai by haar – sy is ‘n behoorlike “treat”! En moenie bekommerd wees nie, jy sal nie verdwaal nie, almal ken haar en weet waar haar pienk huisie staan.  Jy sal haar natuurlik net nie op ‘n Sondagmôre in die hande kry nie – dan wil sy kerk toe!

Ek het ongelukkig die fout gemaak om Sondag voor kerk by haar aan te klop en sy kon dus net ‘n uur aan my afstaan om my vraelys te beantwoord. Ek sou graag die hele oggend by haar wou kuier! Tannie Grietjie het egter ten spyte van die tyd-dilemma  haar so goed van haar taak gekwyt! Sy het op haar hoë ouderdom deur die vrae gevlieg en boonop baie deurdenkte antwoorde gegee! En sy het ernstig gesels oor hoe  bekommerd sy is dat die jongmense vir die grootmense ‘beveel’ om korrekte Afrikaans te gebruik – want volgens haar is daar mos nie ‘n korrekte of ‘n verkeerde Afrikaans nie en almal praat maar soos hulle praat! Ek stem tannie Grietjie! Ek stem!

En toe dit tyd was om te groet het sy alte pragtig vir die kamera poseer! Wat ‘n plesier is sy nie!

Ek en Tannie Grietjie uitgevat in haar kerkklere

2 comments Julie 8, 2008

Grahamstad se Mandela sing en dans vir gevangenis

‘n Boodskap van hoop en bevryding is gister na die Grahamstad tronk gebring toe oud-gevangenis as deel van die nasionale kunstefees ‘n program vir geharde kriminele, wat hier in aanhouding is, aangebied het.
Altesaam 10 koorlede, waarvan 4 oud-gevangenis van dié tronk is, het gister die kans gekry om voor ongeveer 200 van hul eertydse “maats” ‘n boodskap van bevryding te bring.
En vir Mnr. Bonile Plaatje, leier van die groep Amagugu Amatsha, het hy gister soos ‘n koning gevoel toe hy weer die tronk na 2 jaar binnestap.  “Ek word hier met respek behandel.  Ek voel soos ‘n eie Mandela wat ‘n boodskap van bevryding vir my mense bring,” het Plaatje gesê.
Plaatje en sy groep is gestig ná ‘n soortgelyke uitreikingsprogram deur die nasionale kunstefees in 2004 wat hom só geinspireer het om dieselfde te doen dat hy die groep gestig het en gister voor die gevangenis kon optree.
Die gevangenis se eie marimba-groep asook hul eie gospel groep Amadodana, het ook gister opgetree terwyl die sowat 200 emosielose gesigte stadigaan opgehelder het.  Die 10 manne in spierwit hemde en handskoene het op skouspelagtige wyse onder andere xenofobie veroordeel deur middel van hul sang en dans.
Vader Zweni Nqoko wat die byeenkoms gelei het, sê die groepe wou eenheid bevorder.  “Hulle sê xenofobie is verkeerd en die enigste toegang tot die hemel is deur Jesus.”
Plaatje se koor, wat voorheen die Oos-Kaap se Interne Korrektiewe Dienste Liga toekenning gewen het, sê die koor motiveer hom ook om nie weer betrokke te raak in dwelms en misdaad nie, en help mekaar om uit die tronk te bly.
Hy verduidelik die tipe musiek wat hulle beoefen, genaamd Scathamiya, is ‘n vorm wat in Kwazulu-Natal deur die voorsanger van die groep Ladismith Black Mambazo, Joseph Tshabalala begin is.
“Ons was hier vandag om die gevangenis te sê dat as jy die kans kry om uit te kom, jy jouself moet motiveer om nie weer terug te kom nie, want net een fout kan jou weer hier binne laat beland,” het Plaatje na die vertoning gesê.
Mnr. Michael Liwani, seksiehoof, het gesê só ‘n boodskap is nodig omdat talle van die gevangenis wat bevry word, weer in die tronk beland.  “Eenkeer is honderde gevangenis tydens ‘n amnestieviering vrygelaat en die helfte van hulle is dieselfde aand weer in hegtenis geneem.”

Add comment Julie 4, 2008

Straatkinders in kunste opgelei

Die organiseerders van die nasionale kunstefees hier, het vanjaar vir die eerste keer ‘n projek begin om ook straatkinders in die dorp touwys te maak in die kunste.
Slypskole is vir kinders in die dorp in die laaste 3 weke aangebied om hulle te leer om sakgeld te maak en ‘n loopbaan in die kunste te bevorder, volgens Me. Janet Buckland, regisseur van Ubom! drama maatskappy wat die kinders opgelei het.
“Ons het ‘n verskeidenheid werkswinkels aangebied en ‘n hele klomp kinders het opgedaag,” het Buckland gesê oor die uitdaging om sowat 100 kinders op te lei.
Die kinders het ook elkeen ‘n rooi t-hemp ontvang sodat toeriste die kinders by die monument, in Highstreet in die dorp en op die Village Green-area kan herken.
“Die projek gee die kinders ‘n hupstoot deur in hulle talente te belê,” het Buckland gesê.
Mnr. Ismail Mohamed, direkteur van die nasionale kunstefees wat na vanjaar die leisels by Lynette Marais oorneem, het gesê kinders is al lank deel van Grahamstadfees. “Vir baie jare het die kinders as mimiek standbeelde of as singende kunstenaars in die strate opgetree. Vanjaar word hulle opgelei sodat hulle nie soos straatbedelaars voorkom nie, maar eerder soos straatkunstenaars.”
Volgens Me. Gilly Hemphill, feeswoordvoerder, is sy opgewonde dat so ‘n projek by die fees posgevat het. “Die kinders was vorige jare ‘n irritasie vir die toeriste. Daar was te veel van hulle wat nie beheer kon word nie,” het Hemphill gesê.
Anele Sdemba (13) het gister voor die monument gesê hy stel ‘n standbeeld voor wat beweeg en dans wanneer iemand geld in sy bakkie gooi. “Ek gee die geldjies vir my ma wat kos vir ons koop,” het hy vertel.
Klein Sibongile Komana (10) sê hy kry net ‘n paar rand per dag en “koop iets om te eet omdat ek honger raak van so rondstaan”.
Me. Amanda Gericke sê hoewel daar baie kinders sonder rooi t-hemde in die strate staan, waarskynlik weens die koue weer, is daar tog ‘n beter beheer dié jaar oor die kinders. “Dit is baie oulik wanneer hulle laf aantrek met pruike en donkerbrille en dan eweskielik beweeg as ek geld in sy bakkie gooi. Hulle doen iets om geld te verdien – die bedelaars irriteer my net,” het Gericke gesê.

Add comment Julie 3, 2008

Toneel uit “Intiem etc”

Tossie van Tonder in ‘n toneel uit haar dansstuk Intiem etc.  Die stuk is deel van die hooffees tydens vanjaar se Nasionale Kunstefees.

Add comment Junie 28, 2008

Duurder dagga op fees

Die polisie op die dorp het gister twee uitlanders in hegtenis geneem vir die onwettig handeldryf van dagga. ‘n Kongolese man en ‘n Malawiese man is in aanhouding ná hulle dagga verkoop het teen pryse hoër as die straatwaarde, luidens ‘n polisieverklaring. ‘n Banksakkie dagga met ‘n straatwaarde van R20 is verkoop vir R200 terwyl drie kleiner selfgemaakte sakkies (bompies) met waarde van R20 elk teen R300 verkoop is. Die twee is op die besigheidsterrein van die Nasionale Kunstefees wat die week op die dorp gehou word, in hegtenis geneem, het polisiewoordvoerder Milanda Coetzer gesê.
Hulle sal Maandag in die hof verskyn.

Die verklaring lui voorts 133 dagvaardigings is in die laaste 24 uur deur die polisie en die verkeersafdeling tydens padblokkades uitgereik.  Die dagvaardigings was meestal weens spoedoortredings.

Ook 2 gevalle van diefstal uit voertuie en ‘n verhoging in skootrekenaardiefstal is aangemeld.


Add comment Junie 28, 2008

Pieter Dirk Uys op fees

Pieter Dirk Uys

Pieter Dirk Uys besig om ‘n werkswinkel toe te spreek tydens die jaarlikse Grahamstad Nasionale Kunstefees. Dit is die eerste keer wat werkswinkels vir kunstenaars aangebied word deur veterane in die bedryf.

Add comment Junie 27, 2008

Werkswinkels vanjaar ‘n eerste op fees

Die Nasionale Kunstefees bied vanjaar vir die eerste keer werkswinkels vir kunstenaars wat meer vaardighede in die bedryf wil opdoen.
Dié werkswinkels is ‘n projek van die nuwe uitvoerende direkteur, Mnr. Ismail Mohamed wat die leisels ná vanjaar by Lynette Marais oorneem.
Werkswinkels het reeds Donderdag saam met die fees afgeskop en sal tot die einde van die fees duur.  “Dit is die eerste keer in Suid-Afrika dat werkswinkels vir die volle duur van die fees gehou sal word waar kunstenaars met die professionele mense in die bedryf skouers kan skuur,” het Mohamed gister gesê.
“Die werkswinkels bied ‘n geleentheid vir die kunstenaars wat die passie vir die bedryf het, maar nie noodwendig die vaardighede besit nie, om van die professionele kunstenaars te leer,” het Mohamed gesê.
Die werkswinkels sal bemarking van toneelstukke en die aanwending van beligting en klank dek, sowel as hoe kunstenaars te werk moet gaan om produksies na ander feeste en groot teaters in die land te neem.
Pieter Dirk Uys het gister self ‘n werkswinkel aangebied waar hy oor sy ervaring as professionele kunstenaar in die vermaaklikheidsbedryf kon vertel.
“Hierdie werkswinkels is ‘n stap in die regte rigting vir die kunste in Suid-Afrika,” het Pieter Dirk Uys gister aan Die Burger gesê.  “Die media fokus is afwesig in die bedryf en dit is belangrik vir kunstenaars om vir die media te wys ons tafel is gedek,” het hy gesê.
Soortgelyke werkswinkels word tydens die Edinburg Kunstefees gedoen.  Ander professionele mense wat ook bydrae sal lewer sluit in Martin Koboekae, Brett Pyper, direkteur van die KKNK asook Karen Meiring en Craig Higginson.
Die fees duur nog tot 5 Julie.

Add comment Junie 27, 2008

Previous Posts


Kategorieë

Blogroll

Kalender

November 2009
M T W T F S S
« Aug    
 1
2345678
9101112131415
16171819202122
23242526272829
30