Werkswinkels vanjaar ‘n eerste op fees
Junie 27, 2008
Die Nasionale Kunstefees bied vanjaar vir die eerste keer werkswinkels vir kunstenaars wat meer vaardighede in die bedryf wil opdoen.
Dié werkswinkels is ‘n projek van die nuwe uitvoerende direkteur, Mnr. Ismail Mohamed wat die leisels ná vanjaar by Lynette Marais oorneem.
Werkswinkels het reeds Donderdag saam met die fees afgeskop en sal tot die einde van die fees duur. “Dit is die eerste keer in Suid-Afrika dat werkswinkels vir die volle duur van die fees gehou sal word waar kunstenaars met die professionele mense in die bedryf skouers kan skuur,” het Mohamed gister gesê.
“Die werkswinkels bied ‘n geleentheid vir die kunstenaars wat die passie vir die bedryf het, maar nie noodwendig die vaardighede besit nie, om van die professionele kunstenaars te leer,” het Mohamed gesê.
Die werkswinkels sal bemarking van toneelstukke en die aanwending van beligting en klank dek, sowel as hoe kunstenaars te werk moet gaan om produksies na ander feeste en groot teaters in die land te neem.
Pieter Dirk Uys het gister self ‘n werkswinkel aangebied waar hy oor sy ervaring as professionele kunstenaar in die vermaaklikheidsbedryf kon vertel.
“Hierdie werkswinkels is ‘n stap in die regte rigting vir die kunste in Suid-Afrika,” het Pieter Dirk Uys gister aan Die Burger gesê. “Die media fokus is afwesig in die bedryf en dit is belangrik vir kunstenaars om vir die media te wys ons tafel is gedek,” het hy gesê.
Soortgelyke werkswinkels word tydens die Edinburg Kunstefees gedoen. Ander professionele mense wat ook bydrae sal lewer sluit in Martin Koboekae, Brett Pyper, direkteur van die KKNK asook Karen Meiring en Craig Higginson.
Die fees duur nog tot 5 Julie.
Entry Filed under: Fees 2008. Tags: brett pyper, craig higginson, fees, ismail mohamed, karen meiring, KKNK, lynette marais, martin koboekae, pieter dirk uys, werkswinkel.
Trackback this post | Subscribe to the comments via RSS Feed