Straatkinders in kunste opgelei
Julie 3, 2008
Die organiseerders van die nasionale kunstefees hier, het vanjaar vir die eerste keer ‘n projek begin om ook straatkinders in die dorp touwys te maak in die kunste.
Slypskole is vir kinders in die dorp in die laaste 3 weke aangebied om hulle te leer om sakgeld te maak en ‘n loopbaan in die kunste te bevorder, volgens Me. Janet Buckland, regisseur van Ubom! drama maatskappy wat die kinders opgelei het.
“Ons het ‘n verskeidenheid werkswinkels aangebied en ‘n hele klomp kinders het opgedaag,” het Buckland gesê oor die uitdaging om sowat 100 kinders op te lei.
Die kinders het ook elkeen ‘n rooi t-hemp ontvang sodat toeriste die kinders by die monument, in Highstreet in die dorp en op die Village Green-area kan herken.
“Die projek gee die kinders ‘n hupstoot deur in hulle talente te belê,” het Buckland gesê.
Mnr. Ismail Mohamed, direkteur van die nasionale kunstefees wat na vanjaar die leisels by Lynette Marais oorneem, het gesê kinders is al lank deel van Grahamstadfees. “Vir baie jare het die kinders as mimiek standbeelde of as singende kunstenaars in die strate opgetree. Vanjaar word hulle opgelei sodat hulle nie soos straatbedelaars voorkom nie, maar eerder soos straatkunstenaars.”
Volgens Me. Gilly Hemphill, feeswoordvoerder, is sy opgewonde dat so ‘n projek by die fees posgevat het. “Die kinders was vorige jare ‘n irritasie vir die toeriste. Daar was te veel van hulle wat nie beheer kon word nie,” het Hemphill gesê.
Anele Sdemba (13) het gister voor die monument gesê hy stel ‘n standbeeld voor wat beweeg en dans wanneer iemand geld in sy bakkie gooi. “Ek gee die geldjies vir my ma wat kos vir ons koop,” het hy vertel.
Klein Sibongile Komana (10) sê hy kry net ‘n paar rand per dag en “koop iets om te eet omdat ek honger raak van so rondstaan”.
Me. Amanda Gericke sê hoewel daar baie kinders sonder rooi t-hemde in die strate staan, waarskynlik weens die koue weer, is daar tog ‘n beter beheer dié jaar oor die kinders. “Dit is baie oulik wanneer hulle laf aantrek met pruike en donkerbrille en dan eweskielik beweeg as ek geld in sy bakkie gooi. Hulle doen iets om geld te verdien – die bedelaars irriteer my net,” het Gericke gesê.
Entry Filed under: Fees 2008. Tags: amanda gericke, ismail mohamed, janet buckland, kunstefees, lynette marais, straatkind.
Trackback this post | Subscribe to the comments via RSS Feed