“Tannie Grietjie het my bekoor” – navorser
Julie 8, 2008
Alexa Kirsten, dialeknavorser van die taalatlasprojek, het tydens haar besoek aan die Noord-Kaap die voorreg gehad om Grietjie Adams te ondervra. Sy gee haar indrukke…
Op my laaste navorsingstoer het ek die voorreg gehad om vir Tannie Grietjie van Garies – já dis reg, die einste en enigste Grietjie – te ontmoet. Vir dié van julle wat nog nooit van haar gehoor het nie, waar was julle die afgelope dekade?
Sy was omtrent ‘n gunsteling in die media met haar rympies en liedjies en passie vir die Afrikaanse taal. Sy het ook al menige ATKV-pryse ingepalm vir haar besonderse talent. Tannie Grietjie het my omtrent vermaak met haar skril sangstemmetjie en het uit volle bors “Mooie meisie met die ronde lyfie” gesing. En haar danspassies is uit die boonste rakke! Met haar kort ou lyfie swaai en draai sy en stamp haar piepklein voetjies dat Garies se stof so staan!
Sy is ook baie lief vir drukkies uitdeel en is ‘n gelowige ou tannie wat nie skroom om vir jongmense (insluitend myself natuurlik) oor die sondes van die vlees te preek nie. Ek was skoon rooi van skaamte dat dié ou tannie sulke ‘ernstige’ onderwerpe sonder blik of bloos kan aanspreek! Sjoe! Sy kan vir enige hoërskool Biologie-onderwyser ‘n ding of twee vertel!
Sy was definitief een van my gunsteling mense wat ek sover op my navorsingstoere ontmoet het. Indien jy weer in Garies se area is, maak asseblief ‘n draai by haar – sy is ‘n behoorlike “treat”! En moenie bekommerd wees nie, jy sal nie verdwaal nie, almal ken haar en weet waar haar pienk huisie staan. Jy sal haar natuurlik net nie op ‘n Sondagmôre in die hande kry nie – dan wil sy kerk toe!
Ek het ongelukkig die fout gemaak om Sondag voor kerk by haar aan te klop en sy kon dus net ‘n uur aan my afstaan om my vraelys te beantwoord. Ek sou graag die hele oggend by haar wou kuier! Tannie Grietjie het egter ten spyte van die tyd-dilemma haar so goed van haar taak gekwyt! Sy het op haar hoë ouderdom deur die vrae gevlieg en boonop baie deurdenkte antwoorde gegee! En sy het ernstig gesels oor hoe bekommerd sy is dat die jongmense vir die grootmense ‘beveel’ om korrekte Afrikaans te gebruik – want volgens haar is daar mos nie ‘n korrekte of ‘n verkeerde Afrikaans nie en almal praat maar soos hulle praat! Ek stem tannie Grietjie! Ek stem!
En toe dit tyd was om te groet het sy alte pragtig vir die kamera poseer! Wat ‘n plesier is sy nie!
Ek en Tannie Grietjie uitgevat in haar kerkklere
Entry Filed under: Taalatlas. Tags: Afrikaans, alexa kirsten, atkv, grietjie adams, noord-kaap, Taalatlas, tannie grietjie.
2 Comments Add your own
Leave a Comment
Some HTML allowed:
<a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <pre> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <strike> <strong>
Trackback this post | Subscribe to the comments via RSS Feed

1.
reisiger | Julie 9, 2008 at 5:51 vm
Ek is mal oor tant Grietjie!! Sy is te dierbaar vir woorde…
2.
Wipneus! | Julie 9, 2008 at 9:57 vm
Ek glo sy is groot plesier!! Ek kan my altyd verkyk aan haar dans passies!!