Die storie van die Nama-stap, die put en die wondergat (deel 2)

Julie 10, 2008

Navorser Alexa Kirsten vertel verder van haar ondervinding in die Namakwaland met die Nama-mense langs die Oranjerivier…

Behalwe vir tannie Grietjie, was daar natuurlik baie ander interessante ‘karakters’ wat ek sover op dié navorsingstoer ontmoet het. En elkeen het moeite gedoen om ons in hul gemeenskap ‘in te lyf’ en te laat tuis voel. Ons het egte toeriste-behandeling ontvang en het dít ons darem belangrik laat voel… Ons het nie net wonderlike mense ontmoet nie, maar dié mense het ons weer interessante plekke en ‘verskynsels’ gewys.

Só het ek en Thinus en Werner mos in April in die Noord-Kaap gaan onderhoude voer – en op een van die dorpies tussen niks en nêrens, Steinkopf, het ons Calitz Cloete ontmoet. Hy werk vir die munisipaliteit in Steinkopf, maar is ook stigter van ‘n jeugprojek, Kooh-Rooh-Kooh. Calitz skryf kundige dramas wat dan deur jongmense van sy projek opgevoer word. “So probeer ek maar om die jongklomp uit die kwaad uit te hou” verduidelik Calitz. “Die duiwel is maar lustig hier tussen Steinkopf se jongmense!”
Calitz ken die Nama-taal goed. Hy het vertel Nama word weer as ‘n vak in skole in die Noord-Kaap aangebied. Dit was interessant om te hoor dat Nama as ‘n skoolvak nie net die taalaspek insluit nie, maar kinders leer glo ook van die Nama kultuur. Hulle sal byvoorbeeld tradisionele danse soos die Nama-stap leer asook gelowe en gesondheidsrade van die vroeë Namas.
Calitz was so vriendelik om verskeie mense aan ons voor te stel en te gaan wys hoe matjieshuise gebou word. Baie Namas bly steeds in matjieshuise – glo dit of nie! Ons het in die veld net buite Steinkopf drie Nama tannies ontmoet wat ‘n matjieshuis reg voor ons oë gebou het. Hulle kon dit binne ‘n paar uur voltooi en dit is so knus aan die binnekant. Die huisies is windbeskut én reënbestand: As dit reën, swel die gras en al die openinge tussenin, gaan toe.

Die tannies wat ‘n hut in drie ure kan bou

Dié drie tannies was slim, want hulle vra toeriste slegs R100 per aand in só ‘n huisie en twee kan in ‘n huisie slaap. (In die ‘regte’ lewe kan daar natuurlik baie meer mense inpas!) Die tannies maak sommer self die meubels en die beddegoed vir die matjieshuise. Ons wou baie graag die aand in een van die matjieshuise oornag, maar tot ons teleurstelling was almal reeds vol vir die aand.
Die Nama tannietjies maak steeds tradisioneel kos in hul klei-oondjie in die veld naby die huisies en dra ook nog tradisionele wind- en sonbestande Nama-hoedjies en kleurvolle rokke. En met dié rokke aan begin hulle toe so lekker dans en haal omtrent snaakse passies uit – ons kon nie help om ook te probeer “Nama-stap” nie – tot groot genot van die tannies en Calitz. Hmm, ek moet sê, Thinus se ‘Nama-stap’ was glad nie sleg nie en dit het die tannies omtrent beïndruk… Dit moet wees dat hy iewers Nama-bloed in hom het – ek is oortuig – hy is nie verniet in Springbok gebore en getoë nie. Maar ek en Werner, twee Oos-Kapenaars, se voete wou net nie saamspeel nie. Ons het omtrent koddig gelyk en baie sand opgeskop. Die tannies het maar net teleurgesteld hulle koppe geskud. Maar nou ja – ten minste het ons probeer. En baie pret in die proses gehad.

Een van die tannies wys haar klei-oond

Dit was natuurlik verskriklik warm dié dag en na al die ge-”Nama-stappery” kan mens nogals dors word. Daar was geen winkel in sig nie en toe het Calitz ons ‘n diep watergat gaan wys – en ewe skielik trek hy ‘n emmer water uit die gat met die lekkerste, soetste water wat ek nog in my lewe geproe het. Wat ‘n lafenis was dit nie! Dit was yskoud en sag – soos nektar op die tong. Werner kon nie genoeg water drink nie en Calitz het ‘n goeie twee emmersvol putwater net vir hom uitgelig. Ons wens Grahamstad kon so ‘n ou putjie of twee gehad het…

Calitz skep water uit die put

Verder die dag in Steinkopf het ons ook baie perdekarre gesien – wat snaaks is vir Oos-Kapenaars wat net aan donkiekarre gewoond is. Ek moet sê ek verkies maar ‘n perd bo ‘n donkie. En so ry ek toe al te lekker saam met die eienaar van die kar – ‘n vrou nogals – ál deur Steinkopf se stofstrate. Die tannie laai my toe met die perdekar voor Calitz se ma se huis af. ‘Ouma’, soos sy verkies om genoem te word, is al diep in die negentig en het ‘n hele vraelys met ons voltooi sonder enige gesukkel. En dít terwyl sy bedlêend is! Sy maak selfs Nama-rokke so lê-lê in die bed. Ouma is glo die oudste in Steinkopf. Ons kon ongelukkig nie hul ‘hoofman’ ontmoet nie, want hy is net die vorige dag op ‘n ouderdom hoër as honderd jaar oorlede.

Perdekarre was iets wat ek nie verwag het nie

Behalwe dat ons die Nama-stap geleer het en groot hoeveelhede putwater gedrink het, het ons verder die interessantste natuurverskynsel ooit gesien – in die middel van ‘n woestynagtige gebied naby Khubus is daar ‘n gat wat só diep is dat niemand nog ooit die einde van die gat kon bepaal nie en toeriste wil almal die gat, die sogenaamde ‘wondergat’, aanskou. Ek het ons toergids baie senuagtig gemaak toe ek ‘n biejtie te diep in die gat afgeloer het. ‘n Mens moet letterlik plat op jou maag lê en afloer – maar dis pikswart binne en ek het my oë probeer gewoond maak en gedink vandag is die dag dat iemand die end van die gat sien. Ná tien minute se gestaar en gegluur kon ek nog niks uitmaak nie. Daar word vermoed die gat maak iewers ‘n draai en tonnel elders weer na bo – maar niemand kon glo nog die ander punt van die gat vind nie.

Die “wondergat” is blykbaar so diep dat niemand nog sy bodem kon sien

In hierdie selfde area het ons ook baie suspisieuse boesmantekeninge gesien – dit lyk vir my meer na graffiti maar die toergids sweer dis ‘n groot toeristetrekpunt. Ek dink ‘n stout Nama-tiener het eendag nie so lank gelede nie sy frustrasies op die klippe uitgehaal en objekte geverf wat vir my alteveel fallies lyk… Maar ons het darem later die pragtigste woestynblommetjies gesien – net twee langs mekaar in die middel van nêrens, wat baie vreemd was vir dié tyd van die jaar.

Dít lyk vir my al te fallies…

Twee woestynblomme iewers tussen die dorre aarde

En met al dié ondervindinge agter die rug was ons oppad na ons volgende dorpie vir nog ‘n besoek vol opwinding!

Entry Filed under: Mense, Taalatlas. Tags: , , , , , .

2 Comments Add your own

  • 1. billy  |  September 30, 2008 at 11:48 vm

    IS DAAR NIE NOG FOTOS VAN DIE NAMA INWONERS LANGS DIE ORANJERIVIER NIE? OF DALK VAN HUL HUT HUISIES NIE? EK SAL ENIGIETS GEE OM DIT TE SIEN. MY EMAIL ADRESS: fmitchell@telkomsa.net

  • 2. a3reynolds  |  Oktober 25, 2008 at 10:13 vm

    Baie interessante storie die van die Nama-stap so ook die fotos.

Leave a Comment

Required

Required, hidden

Some HTML allowed:
<a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <pre> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <strike> <strong>

Trackback this post  |  Subscribe to the comments via RSS Feed


Kategorieë

Blogroll

Kalender

Julie 2008
M T W T F S S
« Jun   Aug »
 123456
78910111213
14151617181920
21222324252627
28293031