Die jaarlikse nasionale kunstefees op die dorp het gister in volle vaart afgeskop. Stalletjies op die Village Green area en rondom kerkplein het reeds begin handel dryf en toeriste het die dorp in strome binnegeval vir die vertonings wat begin het.
‘n Ekonomiese inspuiting van ongeveer R51,75 miljoen is verlede jaar die dorp ingebring, volgens ‘n studie van die Universiteit van Noordwes.
Dit sluit kaartjieverkope asook handeldryf by stalletjies en besigheid in.
Mnr. Tony Lankester, hoofuitvoerende beampte, sê hulle verwag vanjaar dieselfde aantal toeriste tot die fees. Verlede jaar is 143 000 kaartjies altesaam verkoop. “Op hierdie stadium is die kaartjieverkope dieselfde as verlede jaar hierdie tyd,” het Lankester gesê.
Hy sê hy verwag nie meer feesgangers vanjaar nie weens die ekonomiese terugslag. “Duurder petrol veroorsaak dat mense twee keer sal dink voor hulle na die fees vertrek.”
Lankester het gesê die KKNK het vanjaar minder feesgangers as tevore gehad en dit sal nie snaaks wees indien dit die geval by die Grahamstad Kunstefees is nie.
Volgens die weerburo is daar ‘n 30% kans op reën Vrydagaand en Saterdagoggend. “Meer mense sal vertonings wil sien eerder as om nat te reën,” het ‘n positiewe Lankester gister gesê.
Volgens restaurantsbestuurders is besigheid ook aan die toeneem in die dorp. Mnr. Francois Maartens, bestuurder van Redwood Spur, het hulle daaglikse inkomste reeds amper dubbeld gegroei met die aanvang van die fees. Mnr. Brian Nolan, bestuurder van Gino’s, het gesê hulle is elke aand vanaf 5 uur reeds volbespreek.
Mnr. Theo Repapis van die nuwe Scott’s Pot kroeg en restaurant het gesê Woensdagaand was baie besig en hulle verwag dat dit deur die loop van die fees sal optel. Ook Mnr. Mynhardt van Dyk van die Rat and Parrot het gesê besigheid is aan die toeneem, al is die studente van die Rhodes universiteit op die dorp reeds weg met vakansie.
Me. Ilse Kenedy, ‘n feesganger van Johannesburg het gesê sy en haar vriendinne besoek jaarliks die fees omdat dit so baie pret is met ‘n hele verskeidenheid van kunste en kultuur. “Almal is gelukkig en vier fees,” het Kenedy gesê.
Mnr. Colin Groenewald sê die feit dat daar so ‘n verskeidenheid mense tydens die fees die dorp besoek en die goedkoop stalletjies op die Village Green is waarom hy die fees bywoon.
Die fees duur nog tot 5 Julie.
Junie 27, 2008

Hierdie man kon net-net daarin slaag om onder die dwarsbalk te seil teen ‘n ongelooflike kort hoogte.
Junie 26, 2008

Tussen al die kunste deur, is daar darem tyd vir dié kameelritte.
Junie 26, 2008
Die universiteit van Rhodes verloor einde vandeesmaand een van sy voorste professore en dekaan van die universiteit se regsfakulteit.
Prof. Rob Midgley, dekaan en dosent, het reeds die pos as viserektor by die universiteit van Fort Hare aanvaar. Die pos sal navorsing en akademie by die universiteit bevorder.
Midgley het gister voor die regsfakulteit waar hy vir oulaas nog as dekaan sal dien, gesê die tyd vir ‘n nuwe uitdaging het vir hom aangebreek. Midgley werk al vir 24 jaar by Rhodes as senior dosent, professor en dekaan onderskeidelik en beklee al die pos as dekaan van die regsfakulteit vir altesaam 10 jaar. “As jy al 10 jaar in ‘n pos is, is dit tyd om aan te beweeg.”
Midgley het nog verpligtinge om tot in September by Rhodes klas te gee, maar sluit reeds 1 Julie by Fort Hare aan. “Ek gaan hier weg met ‘n goeie hart, maar ook ‘n seer hart. ‘n Mens raak lief vir die plek,” het Midgley gesê wat die helfte van sy akademiese loopbaan by Rhodes spandeer het.
“Ek het nou my sell by date as dekaan bereik,” het Midgley geskerts.
Midgley was in 1994 tweede in bevel van die Onafhanklike Verkiesingskomissie in die Oos-Kaap. Hy is ook die voorsitter van die Ngqura-Coega-omgewingskomitee (EMC).
Benewens die bykans 100 akademiese artikels reeds op sy kerfstok, beskou hy die werk wat hy gedoen het oor kompensasie vir ongelukke, laster en privaatheidskending as sy belangrikste werk tot dusver in sy loopbaan.
Junie 26, 2008
Die studentedekaan van die Rhodes Universiteit op Grahamstad het vroeër vandeesweek ‘n waarskuwing aan Zimbabwese studente uitgegee om die universiteit se amptelike plakkers van hulle motors te verwyder wanneer hulle oor die grens beweeg.
Volgens Mnr. Guy White, woordvoerder, het die universiteit ‘n e-pos van ‘n oudstudent ontvang dat grensbeamptes “agressief” teenoor Rhodes studente optree.
Geen verdere inligting is bekend nie, het White gister gesê.
Die studentedekaan kon nie vir kommentaar bereik word nie.
Junie 25, 2008
Die jaarlikse Nasionale Kunstefees beloof om vanjaar ‘n hele reeks produksies vir die Afrikaanse feesganger te bied.
Hoewel daar volgens Mnr. Tony Lankester, hoof uitvoerende beampte, nie statistieke bestaan dat die aantal Afrikaanse produksies toegeneem het nie, weerspieël vanjaar se feesprogram tog uiteenlopende produksies in Afrikaans.
Volgens Lankester wil hy hê die fees moet die hele Suid-Afrika verteenwoordig, maar die meerderheid van die gehore is Engelssprekend en daarom word meeste van die produksies wat hulself by die randfees ingeskryf het, in Engels aangebied.
Van die hooffees wat deur die feeskommittee gekies word, het Lankester gesê hy “wil soveel as moontlik Suid-Afrikaanse tale verteenwoordig hê aangesien dit ‘n nasionale kunstefees is.”
“Afrikaans is net so belangrik soos enige ander taal. Afrikaanse kunstenaars het baie vir die kunste in Suid-Afrika gedoen en die fees moet dit reflekteer,” het Lankester gesê.
Lankester self het ook twee Afrikaanse toevoegings vanjaar gemaak. Ollie Viljoen, P.G du Plessis en Valiant Swart is tydens die KKNK gevra om hul stuk Klets Klawers en Kitaar ook op die Grahamstad fees aan te bied. Du Plessis sal stories vertel terwyl Viljoen en Swart Afrikaanse musiek sal maak. Ook Karen Zoid is deur Lankester gevra om tydens die fees op te tree.
Ander produksies wat te sien is, sluit in Ekspedisies, ‘n verwerking van Wilma Stockenström se Die Kremetartekspidisie deur die bekroonde regisseur Heike Gehring.
Die Universiteit van Stellenbosch bied as deel van die studenteteater, die stuk Aan’t ete geregisseur deur Wilhelm Conradie, aan.
Amanda Strydom sal ook haar kabaret Soul Songs wat gedeeltelik in Afrikaans gedoen sal word, aanbied. Ook die nuweling Karika Schutte lewer ‘n musiekstuk Tien duisend engele wat internasionaal opslae maak en “beloof om die hart te raak” volgens die randfeesprogram.
Die toneelgroep De Appel wat ‘n samewerking tussen Nederlandse en Afrikaanse kunstenaars is, sal drie kort toneelstukke opvoer. Gesoute toneelskrywer Mike van Graan en die Jong Kunstenaar van die jaar 2008 wenner vir drama, Jaco Bouwer se werk sal gesien kan word.
Daar is ook die dansstuk Intiem van Tossie van Tonder asook die film Meisie te sien.
Bouwer is Afrikaanssprekend asook die Jong Kunstenaar vir 2008-wenner vir musiek, Zanne Stapelberg wat An African Celebration as deel van die hooffees sal aanbied.
Junie 24, 2008