Taalatlas

Rhodes Linguistiek-dosent doen pioniersnavorsing

Die eerste Afrikaanse taalatlas, ’n wêreldeerste vir die Afrikaanse taal, word tans saamgestel. Die atlas, wat hoop om binne die volgende drie jaar op die Internet en in boekvorm beskikbaar gestel te word, behels pioniersnavorsing oor die verskillende dialekte van Afrikaans soos hulle in verskeie dele van die land elk sy eie unieke karakter aangeneem het. Soortgelyke studies is al in verskeie tale in groot dele van Europa gedoen.

Dr. Mark de Vos en Me. Alexa Kirsten

Wie is betrokke?

Die stigter van die projek, dr. Mark de Vos, linguistiek-dosent aan die Rhodes-Universiteit op Grahamstad, samel data in saam met me. Alexa Kirsten, ’n meestersgraadstudent aan dieselfde universiteit, asook die Meertens-instituut in Nederland en die Universiteit van Stellenbosch. Sowat R436 000 is deur die South African Netherlands Research Program on Alternatives in Development (Sanpad) beskikbaar gestel vir die drie jaar lange projek, wat nou reeds halfpad is.

Mnr. Jakobus Sass van die Keimoes-Kakamas area

Die transformasie van die taal

Volgens De Vos sal sprekers se taalerfenis deur middel van dié projek vir die nageslag bewaar word en die weg baan vir ander taalnavorsers wat soortgelyke projekte wil aanpak. Hy verduidelik dat die belangrikheid van navorsing oor Afrikaanse dialekte benadruk word deur die feit dat dit die enigste Wes-Germaanse taal is wat buite Europa ontwikkel het. Die ander tale, soos Nederlands, Duits en Engels, verskil van Afrikaans omdat werkwoorde en sinskonstruksies verander wanneer van die teenwoordige na die verlede tyd oorgeskakel word. “Mense dink Afrikaans is nes Nederlands, maar dis nie die geval nie. Dit is soortgelyk, maar daar is genoeg verskille om dit linguisties te bestudeer.” De Vos sê die Afrikaner-nasionalisme van die 20ste eeu het sedert die Groot Trek die grootste impak op Afrikaans gehad. “Afrikaner-nasionalisme word geassosieer met wit sprekers van Afrikaans. Die projek sal in mindere mate kyk na hoe Afrikaans getransformeer is van ’n ‘wit taal’ na ’n taal wat mense van alle bevolkingsgroepe insluit.”

‘n Nama-dogtertjie van Riemvasmaak

Drie tradisionele taalstreke…

De Vos verduidelik dat daar reeds deur data wat in die Oos-, Wes- en Noord-Kaap ingesamel is, gesien kan word hoe verskeie variante in taalstreke in die land gebruik word. Taalstreke sluit in Oos-Kaapse, Oranjerivier- en Kaapse Afrikaans. Die drie families van Afrikaans het ontstaan toe Jan van Riebeek in 1652 Nederlands na die Kaap gebring het. Mense soos die Maleiers en Portugese wat destyds die Kaap ingebring is, het ’n vereenvoudigde vorm van Nederlands begin praat wat reeds elemente van Afrikaans soos dit vandag gepraat word, bevat het. Met kolonisasie het groepe later onderskeidelik in ’n oostelike rigting en noordwaarts in die rigting van die Oranjerivier getrek. Die drie taalstreke is so gevorm.

Me. Mary “Queenie” Cupido van Cradock

Wat bevind die data van die taalatlas?

De Vos se data maak dit duidelik dat die drie taalstreke nie net van mekaar verskil soos dit destyds die geval was nie, maar dat daar nou ook duidelike verskille binne so ’n streek opgemerk word.

“Baie mense dink dat Afrikaans besig is om uit te sterf, maar dit is net besig om te verander. Dis dié verandering wat ons wil dokumenteer sodat ons kan uitvind wat besig is om te gebeur met Afrikaans.”

Volgens De Vos is so ’n studie in die jare sestig gedoen, maar die studie het slegs woorde met mekaar vergelyk.

“Met die gedokumenteerde veranderinge in Afrikaans word dit duidelik: Die taal behoort aan die wat dit praat. Dialekverskille is dus onvermydelik in die toekoms van ons taal.”

Die projek se vordering kan by http://www.ru.ac.za/englishlanguageandlinguistics/researchandprojects/afrikaansvariationproject dopgehou word.

(c) Die Burger/Thinus Dippenaar

Die veldwerkers

Me. Lavern du Plessis

Mnre. Thinus Dippenaar en Werner Bosch

Die plekke

Die vallei van verlatenheid, Graaff-Reinet

Só lyk Lekkersing, Noord-Kaap

Onderhoude word sommer iewers in ‘n woestyn onder die koelte van ‘n boom gevoer.

3 Comments Add your own

  • 1. Werner Bosch  |  Julie 10, 2008 at 6:21 nm

    great stories lexa!!!!!!!!!!!!!!!!!!!

  • 2. Elke  |  Januarie 17, 2009 at 2:12 nm

    Hi
    dit klink soos ‘n wonderlike projek, maar ongelukkig is die weblink nie beskikbaar nie – waar anders kan ons oor die vordering van die projek inligting kry?

  • 3. Thinus Dippenaar  |  Januarie 18, 2009 at 6:55 nm

    Die nuwe skakel is opgedateer.

Leave a Comment

Required

Required, hidden

Some HTML allowed:
<a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <pre> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <strike> <strong>

Trackback this post  |  Subscribe to the comments via RSS Feed